“Dit is volbring!”

Johannes 19:29-30

Met hierdie woorde het Jesus gesê Hy het Sy taak hier op aarde voltooi.  Hy het teruggekyk op sy lewe, die doel waarvoor Hy mens geword het, om God te verheerlik, om vir ons ‘n voorbeeld te wees, om vir ons te ly en te sterf, en besef: Dit is volbring.  Ek het my werk op aarde voltooi.  Hy het dit gedoen deurdat Hy volkome gehoorsaam was aan God se wet en dat Hy die straf vir die mens se sondes op Hom geneem om so vir ons die ewige lewe te kon verdien.  Dit waarvoor God die Vader Hom na die aarde gestuur het, het Hy gedoen.

Daarom kan Hy uitroep: Dit is volbring.  Hierdie uitroep is die getuienis dat Jesus beheer het oor die dood.  Sy uitroep is die triomfantlike verklaring dat alles wat God aan Hom opgedra het, volledig uitgevoer is.  Daarom is hierdie laaste woorde nie net vir Homself bedoel nie maar vir die hele wêreld.  Al lyk sy dood na die einde van alles, na ’n nederlaag, is dit beslis nie so nie.  Dit is die begin.  Dit is ’n oorwinning.  ’n Triomfantlike oorwinning.

GEBEDSVERSOEK – Dank God vir Jesus wat tot in die dood gehoorsaam was, sodat ons deur ons geloof in Hom, die ewige lewe kan hê. 

“Ek is dors.”

Johannes 19:28

Hiermee kom gee die Here Jesus aan ons die uitnodiging: “Elkeen wat drink van die water wat Ek Hom sal gee, sal in ewigheid nooit weer dors kry nie.”  Elkeen wat in Hom glo, se dors sal bevredig word.  En die wonderlikste van alles, daardie water is in oorvloed en vir elke mens beskik.  So gaan drink uit die fontein van lewende water, die fontein wat nooit opdroog nie.  Gaan kry jou lewende water direk by die Vader, en les vandag en elke dag wat kom, jou dors.  Dit is gratis!!

Met hierdie kruiswoord bring Jesus ons dors na God onder woorde.  Hy roep namens alle mense uit: God ek dors na U.  Ek het U nodig.  Ek kan nie sonder U lig en U troos en U sorg lewe nie. 

Dit is ook woorde wat sê: onthou dat Ek ook mens was.  En omdat Ek ook mens was, weet ek presies hoe jy soms voel.  Die Here ken my hart; Hy ken my lewe; Hy weet wat ek nodig het.

GEBEDSVERSOEK – Bid dat die wêreld sal besef Jesus is die Lewende water.  Hy is die Een wat ons geestelike dors kan les.  Hy is die Een wat ons lewens kan verander.

“Eli, Eli, lema sabagtani?” Dit is: My God, My God, waarom het U My verlaat?”

Matteus 27:45-46

Jesus het met hierdie woorde ons eensaamheid en alleenheid op Hom geneem.  Die eensaamheid en godsverlatenheid wat ons sou moes verduur in die hel as gevolg van ons verlorenheid, het Hy op Hom geneem.  Maar ook in die lewe kan ek in tye van eensaamheid en alleenheid weet, ek kan my toevlug neem na die Gekruisigde toe, na Hom wat sal verstaan.  

Hierdie kruiswoord wil ons ook aanmoedig: gryp met die hand van geloof aan Jesus vas!  En leef vanuit die sekerheid dat jy nooit, selfs nie in die donkerste krisisoomblik van jou lewe, alleen sal wees nie!

GEBEDSVERSOEK – Dank die Here dat ons nooit alleen is nie.  Dat Hy ook in ons donkerste oomblikke by ons is en saam met ons daardeur gaan.  Bid vir hulle wat alleen en eensaam is; wat deur die samelewing uitgeskuif word; dat hulle bewus sal wees van die Here se teenwoordigheid in hulle lewe.

Psalm 23 en Johannes 10: 1-18

Op 24 Maart het ons President aangekondig dat die hele land (met uitsondering noodsaaklike dienste) in ’n tyd van inperking ingaan. Dit mag vir baie mense frustrerend wees. Ander laat dit met bekommernis oor werkers, besigheid, hulleself en hulle gesinne. Party mense voel depressief, ongeduldig, verslae, paniekerig. Skielik besef ons dat ons broos is, maak nie saak wie jy is nie.

Maar elke keer wat ons broosheid ervaar, is daar ook ’n geleentheid vir groei. Geestelike groei. Dis in sulke tye dat ons dalk meer vrae het en antwoorde soek. Dis in hierdie tye wat ons tyd het om te dink, te lees en te bid.

Wat moet ons as gelowiges doen in hierdie tyd? Kan ons anders dink in hierdie tye van onserkerheid?

Dink bietjie by jouself of gesels saam in jou gesin of met huismense:

  • Wat beteken dit dat die Here ons Herder is?
  • Op watter manier lei Hy ons na ‘waters van rus en groen weivelde’?
  • Watter versekering bied die belofte dat Hy by ons is ‘selfs al gaan ek deur donker dieptes’?
  • Op watter manier gee Hy ons nuwe krag?
  • Wat beteken dit vir jou dat die Herder Sy lewe vir jou afgelê het? (Joh.10:15)

Bid vandag vir jouself en vir ander dat die Herder by ons ook rustigheid en vrede sal bring, selfs al is tye onseker.

“Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.”

Lukas 23:35-43

Ek is seker die mense om die kruis sou geskok gewees het oor hierdie woorde van die Here Jesus aan die misdadiger.  Ook ons is deel van hierdie skare om die kruis.  Ook ons sal wil sê: maar hy het sy lewe lank verkeerd geleef; daar was nie een goeie daad by hom aan te tref nie; hy het gemoor en geroof; daar is geen genade vir hom nie; weg met hom.

Maar die Here Jesus kom openbaar met hierdie woorde aan ons wie die misdadiger aan die kruis is en wie die skare om die kruis is.  Die man aan die kruis is die verlore seun wat uit die ver land teruggekeer het en die soen van vergifnis ontvang het.  Die skare om die kruis is die oudste seun wat protesteer teen die feit dat die jongste seun genade ontvang het.

Daarom roep die kruisgebeure ons op: WAAR staan ONS?  Staan ons by die kruis van Jesus soos ‘n TOERIS, vol verwondering oor wat ons sien?  Soek ons nog verskonings en VERSAGTENDE omstandighede vir ons sonde?  Hoor ons Sy ROEPSTEM en neem slegs daarvan KENNIS?  Of staan ons by die kruis van Christus, VASGENAEL oor wat daar gebeur, diep in die HART getref deur die ONBESKRYFLIKE liefde van God?

BELY ons ons sonde, SONDER om verskonings te soek?  LUISTER ons na sy roepstem deur te DOEN wat Hy beveel?  GRYP ons met die hande van GELOOF aan Jesus vas met die SEKERHEID dat Hy jou Verlosser is wat SELF die hemel vir jou OOPGEMAAK het?  Hoor dan die ONBESKRYFLIKE genadewoord van Christus aan die kruis: “Dit VERSEKER Ek jou: VANDAG SAL jy SAAM met My in die Paradys wees”!

GEBEDSVERSOEK – Wie is daar wat ek mag dink nie die genade van die Here werd is nie?  Kom ons dank die Here vir Sy oorvloedige genade vir almal en dat Hy ons sal vrymaak van vooroordeel.