‘Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!’”

LUKAS 23:26, 32 – 34

Vir wie bid die Here Jesus hier?  Hy bid hier vir die soldate wat Hom gegesel het; vir hulle wat Hom slaan en op Hom spoeg; vir hulle wat die rug op Hom gekeer het; vir die skare wat toekyk en skree kruisig Hom!  Ja Jesus bid hier vir die totale mensdom, ook vir u en my oortredings.  Oortredings wat ons teenoor Hom, teenoor die drie-Enige God begaan.  Ten spyte van alles wat Sy omstanders Hom aangedoen het, ten spyte van alles wat ons Hom aandoen, wanneer ons Sy beeld afbreek deurdat ons mekaar met ons woorde en dade seermaak, wanneer ons die rug op Hom keer deur eerder na ons self te luister as na Hom, of skaam is vir Sy Evangelie, ten spyte van die seerste seer wat ons die Here Jesus kon aandoen, is dit Hy wat tot Sy Vader bid en vra: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.”  Jesus is besig om op Golgota uit te voer wat Hy vroeër gepredik het toe Hy gesê het: “Julle moet julle vyande liefhê; seën die wat julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en vervolg.”

In hierdie ontsettende moeilike tyd wat Jesus beleef, pleit Hy om genade vir die mense.  Vader, gee in U groot genade aan hulle nog tyd om tot bekering en geloof te kom.  Hierdie bede dra die boodskap van vergifnis; van Jesus se bloed wat gevloei het sodat ons verhouding met God herstel kon word.  Dit is ‘n bede wat ons ook uitnooi om ons skuld te bely en Christus se vergifnis te ontvang.  

GEBEDSVERSOEK – Dank die Here vir Sy genade aan ons bewys; vir Sy vergifnis.  Dink na oor u eie lewe en bely u sondeskuld.

“‘Daar is u seun.’ Daarna sê Hy vir die dissipel: ‘Daar is jou moeder.”

JOHANNES 19:25-27

Hoe het Maria nie die dood van haar seun beleef nie!  Elke spottende uitroep en elke haatgevulde kyk na Jesus aan die kruis, moes soos vir haar verskriklik gewees het.  En terwyl Jesus aan die kruis hang, sien Hy dit raak en Hy troos haar met die woorde: “DAAR is u SEUN”!  Dit is asof Hy vir haar sê: Ek sien die pyn in u hart.  Ek sien hoe u saam met My ly.  Ek ken u kommer en angs.  Moenie bang wees nie.  Kyk, daar langs u staan die dissipel vir wie Ek baie lief is.  HY sal vir u sorg soos ‘n geliefde seun.  Aanvaar sy sorg en liefdevolle ondersteuning.  En wees vir hom soos ‘n moeder.

Hierdie kruiswoord van Jesus kom sê vir ons dat almal wat in Hom glo, soos ‘n Maria en ‘n Johannes, word deur hulle geloof familie van mekaar.  Deur ons geloof in Jesus Christus word ons almal geestelike broers en susters van mekaar.  

So is ons ook aan mekaar vasgebind; met die band van geloof.  En Jesus se liefdesopdrag geld ook vir ons!  Hy het ons aan mekaar gegee om mekaar te versorg en te ondersteun soos eie familie.  Met hierdie woorde het die Here Jesus vir ons kom sê dat ons as gelowiges ‘n verantwoordelikheid het teenoor mekaar.  Dit is om vir mekaar lief te wees; dit is om mekaar te versorg; om mekaar te ondersteun; mekaar by te staan; mekaar te vergewe.  Daarom is ons deur ons geloof in die Gekruisigde, geestelike broers en susters van mekaar.  

GEBEDSVERSOEK – Bid vir liefde, omgee, versorging van en uitreik na mekaar.  Dat ons mekaar sal sien as geestelike broers en susters deur ons geloof in Jesus Christus.