


Klakouse
Psalm 1
In hierdie tye van onsekerheid sal daar altyd ’n klomp mense wees wat ander wil bang maak met stories en dreigemente. Mens kry gereeld video’s oor die virus. Van ’n aanduiding dat dit dui op die getal 666 tot duidelike tekens dat dit die einde is. Party mense dink dat God besig is om ons te straf (asof Jesus se kruisdood en Paasfees nie genoeg was nie).
Wees baie versigtig om op loop te gaan met tekste soos Jesaja 26:60 en 2 Kronieke 7.
Toe Jesus aan die kruis uitgeroep het: “Dit is volbring”, het Hy daardeur ook aangedui dat Hy mense se straf volledig op Hom geneem het. Jesaja 26:20 is deel van ’n danklied…wat belowe het: God se redding kan nie gekeer word nie. En dit het waar geword in Jesus Christus. Laat ons daarom eerder sing oor Hom. Hy is by ons vandag en elke dag!
Dink bietjie by jouself of gesels saam in jou gesin of met huismense:
- Met wie gaan dit goed volgens Psalm 1?
- Op watter manier kan ons vreugde vind in die Woord van die Here?
- Op watter maniere kan ons die Woord dag en nag oordink?
- Hoe lyk ’n boom wat by water geplant is? Wat beteken dit vir ons?
- Wat probeer die Bybel vir ons leer met die beeld van ’n boom waarvan die blare nie verdroog nie?
Bid vandag vir jouself en vir ander dat die Woord van die Here vreugde en vrede sal bring en dat ons sal vashou aan die wete dat “alles volbring is”.
“Vader, in U hande gee Ek My gees oor.”
Lukas 23:44-46
Jesus het vrywillig Sy gees in Sy Vader se hande oorgegee. Dit was nie die kreet van ‘n verloorder nie, maar die kreet van ‘n oorwinnaar. Want dit was nie die mag van die dood, of die duiwel en Sy magte wat oorwin het nie, maar die Here wat self oor Sy dood besluit het. Dit was die woorde van ons ewige Verlosser wat tot in die dood in beheer was. Jesus se sewende kruiswoord is vir ons tot bemoediging. Hy is die Een wat in beheer is; Hy is die Oorwinnaar; en deur ons geloof in Hom is ons saam met Hom oorwinnaars. Hy het vrywillig Homself vir ons gegee, vir u en vir my. Hy is ons ewige Verlosser. Daarvan getuig Sy woorde aan die kruishout.
Tog kom daar iets by. Dit is ’n aanvaarding en aanduiding van God se plan met die wêreld. Jesus verklaar openlik dat Hy Homself gee vir God en God se plan vir die wêreld. Jesus het Sy lewe vir ons kom gee. Mag ons in voetspoor van Jesus ook sê: “Vader, in U hande gee ek my lewe oor.” Daardeur bely ons dat ons tye veilig en geborge in die greep van die Here se Hand is. En ons kom plaas ook ons tye in die Hande van die Here.
GEBEDSVERSOEK – Neem my lewe laat dit Heer, U gewy wees, meer en meer.
Recent Comments