Psalm 1

In hierdie tye van onsekerheid sal daar altyd ’n klomp mense wees wat ander wil bang maak met stories en dreigemente. Mens kry gereeld video’s oor die virus. Van ’n aanduiding dat dit dui op die getal 666 tot duidelike tekens dat dit die einde is. Party mense dink dat God besig is om ons te straf (asof Jesus se kruisdood en Paasfees nie genoeg was nie).

Wees baie versigtig om op loop te gaan met tekste soos Jesaja 26:60 en 2 Kronieke 7.

Toe Jesus aan die kruis uitgeroep het: “Dit is volbring”, het Hy daardeur ook aangedui dat Hy mense se straf volledig op Hom geneem het. Jesaja 26:20 is deel van ’n danklied…wat belowe het: God se redding kan nie gekeer word nie. En dit het waar geword in Jesus Christus. Laat ons daarom eerder sing oor Hom. Hy is by ons vandag en elke dag!

Dink bietjie by jouself of gesels saam in jou gesin of met huismense:

  • Met wie gaan dit goed volgens Psalm 1?
  • Op watter manier kan ons vreugde vind in die Woord van die Here?
  • Op watter maniere kan ons die Woord dag en nag oordink?
  • Hoe lyk ’n boom wat by water geplant is? Wat beteken dit vir ons?
  • Wat probeer die Bybel vir ons leer met die beeld van ’n boom waarvan die blare nie verdroog nie?

Bid vandag vir jouself en vir ander dat die Woord van die Here vreugde en vrede sal bring en dat ons sal vashou aan die wete dat “alles volbring is”.

Psalm 23 en Johannes 10: 1-18

Op 24 Maart het ons President aangekondig dat die hele land (met uitsondering noodsaaklike dienste) in ’n tyd van inperking ingaan. Dit mag vir baie mense frustrerend wees. Ander laat dit met bekommernis oor werkers, besigheid, hulleself en hulle gesinne. Party mense voel depressief, ongeduldig, verslae, paniekerig. Skielik besef ons dat ons broos is, maak nie saak wie jy is nie.

Maar elke keer wat ons broosheid ervaar, is daar ook ’n geleentheid vir groei. Geestelike groei. Dis in sulke tye dat ons dalk meer vrae het en antwoorde soek. Dis in hierdie tye wat ons tyd het om te dink, te lees en te bid.

Wat moet ons as gelowiges doen in hierdie tyd? Kan ons anders dink in hierdie tye van onserkerheid?

Dink bietjie by jouself of gesels saam in jou gesin of met huismense:

  • Wat beteken dit dat die Here ons Herder is?
  • Op watter manier lei Hy ons na ‘waters van rus en groen weivelde’?
  • Watter versekering bied die belofte dat Hy by ons is ‘selfs al gaan ek deur donker dieptes’?
  • Op watter manier gee Hy ons nuwe krag?
  • Wat beteken dit vir jou dat die Herder Sy lewe vir jou afgelê het? (Joh.10:15)

Bid vandag vir jouself en vir ander dat die Herder by ons ook rustigheid en vrede sal bring, selfs al is tye onseker.