Tessalonisense 5:16-18

As ons kinders is, leer ons om dankie te sê as ons bid: ‘Dankie vir pappa en mamma. Dankie vir ’n dak oor my kop. Dankie vir kos en klere. Dankie vir gesondheid.’ En as grootmense is dankie-sê darem iewers ook deel van ons gebed. Maar dis moeilik om dankie te sê as ons omstandighede nie ideaal is nie. Dis maklik om dankie te sê as ons al die voorhandliggende het, dit wat ons dink ons móét hê. Maar wat as ons dit nie meer het nie? Is ons dan nog dankbaar?

Paulus moedig sy gemeente aan om in alle omstandighede dankbaar te wees. Paulus self was baie maal in baie moeilike omstandighede, gaan lees maar weer 2 Kor. 11:23-28. Beteken dit ons is dankbaar oor omstandighede? Sekerlik nie, hoewel ons in alles iets positief kan uithaal. In hierdie tyd is die positiewe dat ons tyd saam met ons mese het, tyd het om te lees, tyd het om stil te word en tyd om takies om die huis te doen. Maar ons is nie dankbaar dat mense siek word nie. Ons is in die eerste plek dankbaar dat ons verlos is! Ons is ook dankbaar dat ons kinder kan wees van ’n hemelse vader wat ons nooit alleen los nie en vir ons sorg, selfs in moeilike omstandighede. Miskien is hierdie ook ’n goeie tyd dat ons weer ons seëninge tel en leer om dankbaar te wees in alle omstandighede!

Dink bietjie by jouself of gesels saam in jou gesin of met huismense:

  • Waarvoor kan ons alles dankbaar wees?
  • Hoe kan ons met dankbaarheid lewe teenoor die Here se verlossing?
  • Hoe kan ek anders praat sodat ander mense kan hoor ek leef in dankbaarheid?
  • Bid vandag en sê dankie vir Here. Dankie vir alles in alle omstandighede.

Matteus 25:31-46

Verlede week het baie mense paniek aankope gedoen. Mense ht in lang rye gestaan om trollies vol toiletpapier en ander noodsaaklikhede te koop. Selfs die rye by die drankwinkel het by die deur uitgestaan. Ons het bang geraak alles gaan opraak.

Meeste mense is so gewoond daaraan om enige tyd enigiets te gaan koop wat hulle nodig het. As ons brood en melk nodig het, ry ons gou. As ons iets by die apteek wil hê, ry ons gou. As ons nie lus is vir kosmaak nie, bel ons vir ’n pizza. Ons het gewoond geraak aan die idee: Daar is baie. Niks al ooit opraak nie. En skielik met die inperking word ons gedwing om stil te word en te besef ons kan nie net gou ry nie. Daar is dalk nie genoeg van alles nie. Ons sal dalk sonder ’n paar dinge moet klaarkom. Ons het dit ook besef toe daar nie elke dag water en krag was nie.

Maar in hierdie land is daar miljoene mense wat elke dag van die hand na die mond leef. By hulle is die koskas baie maal leeg. Hulle net nooit wat  of krag in die huis nie.

Het ons nie ook ’n verantwoordelikheid tenoor hulle nie? Ons besef nou dalk vir die eerste keer die ongemak om nie alles nou te kan hê wat ons dink noodsaaklik is nie. Kom ons gaan maak ’n verskil in ons gemeenskap! 

Dink bietjie by jouself of gesels saam in jou gesin of met huismense:

  • Wat is noodsaaklikheid en wat nie?
  • Op watter manier kan ons mense help wat nie al die noodsaaklikhede het nie?
  • Wie is daar aan wie se lewe ons ’n verskil gaan maak as hierdie inperking verby is?
  • Hoe gaan ons eenvoudiger lewe?

Bid vandag vir elkeen wat gereeld sonder noodsaaklikhede klaarkom.

Jakobus 4:13-17

Ek kan my altyd verstom aan mense wat so seker is van hulleself en van die lewe. Mens kry mos diegene wat vir jou met baie oortuiging kan vertel presies wat die beurs gaan doen, hoe die weer gaan wees en watter span die naweek gaan wen.

Die pandemie wat ons nou beleef laat ’n mens weer van vooraf besef daar is baie min sekerhede in hierdie lewe. Maar ons hou van sekerhede, want sekerhede laat ons in beheer voel. Dis waarom ons verkies om sekerheid te hê rondom ons werk, ons toekoms, ons land, ons gesondheid, ons kinders en ons besittings. As hierdie sekerhede van ons af weggevat word, voel dit baie maal of die mat onder ons voete uit is. Dit gebeur as ons siek word, ons werk verloor, ouderdom ons inhaal, uitsprake van die regering hoor en as ’n pandemie die land lam lê.

Tog het Jesus vir ons kom leer om eerder van dag-tot-dag te lewe. Hy leer ons bid: Gee ons vandag ons daaglikse brood (Matt. 6:11). Hy leer ons om nie bekommerd te wees oor klere of oor wat ons gaan eet of drink nie (Matt. 6:25-34). Dis natuurlik nie altyd so maklik nie, veral nie as jy mense het om voor te sorg nie. Maar kom ons gebruik hierdie onseker tyd om ook te leer van afhanklikheid en vertroue, juis omdat ons nie beheer het nie.

Dink bietjie by jouself of gesels saam in jou gesin of met huismense:

  • Op watter manier bou ons vir onsself  ‘sekerhede’?
  • Wat leer die Bybel ons, wat is dit wat eintlik belangrik is (Matt 6:33)?
  • Waarvan kan ons seker wees in die lewe?
  • Hoe moet ek my lewe aanpas om meer in afhanklikheid van die Here te lewe?

Bid vandag dat ons meer afhanklikheid sal leer en bid ook vir elkeen wat elke dag van dag-tot-dag moet lewe sonder enige sekerhede.

 

 

Psalm 1

In hierdie tye van onsekerheid sal daar altyd ’n klomp mense wees wat ander wil bang maak met stories en dreigemente. Mens kry gereeld video’s oor die virus. Van ’n aanduiding dat dit dui op die getal 666 tot duidelike tekens dat dit die einde is. Party mense dink dat God besig is om ons te straf (asof Jesus se kruisdood en Paasfees nie genoeg was nie).

Wees baie versigtig om op loop te gaan met tekste soos Jesaja 26:60 en 2 Kronieke 7.

Toe Jesus aan die kruis uitgeroep het: “Dit is volbring”, het Hy daardeur ook aangedui dat Hy mense se straf volledig op Hom geneem het. Jesaja 26:20 is deel van ’n danklied…wat belowe het: God se redding kan nie gekeer word nie. En dit het waar geword in Jesus Christus. Laat ons daarom eerder sing oor Hom. Hy is by ons vandag en elke dag!

Dink bietjie by jouself of gesels saam in jou gesin of met huismense:

  • Met wie gaan dit goed volgens Psalm 1?
  • Op watter manier kan ons vreugde vind in die Woord van die Here?
  • Op watter maniere kan ons die Woord dag en nag oordink?
  • Hoe lyk ’n boom wat by water geplant is? Wat beteken dit vir ons?
  • Wat probeer die Bybel vir ons leer met die beeld van ’n boom waarvan die blare nie verdroog nie?

Bid vandag vir jouself en vir ander dat die Woord van die Here vreugde en vrede sal bring en dat ons sal vashou aan die wete dat “alles volbring is”.

Psalm 23 en Johannes 10: 1-18

Op 24 Maart het ons President aangekondig dat die hele land (met uitsondering noodsaaklike dienste) in ’n tyd van inperking ingaan. Dit mag vir baie mense frustrerend wees. Ander laat dit met bekommernis oor werkers, besigheid, hulleself en hulle gesinne. Party mense voel depressief, ongeduldig, verslae, paniekerig. Skielik besef ons dat ons broos is, maak nie saak wie jy is nie.

Maar elke keer wat ons broosheid ervaar, is daar ook ’n geleentheid vir groei. Geestelike groei. Dis in sulke tye dat ons dalk meer vrae het en antwoorde soek. Dis in hierdie tye wat ons tyd het om te dink, te lees en te bid.

Wat moet ons as gelowiges doen in hierdie tyd? Kan ons anders dink in hierdie tye van onserkerheid?

Dink bietjie by jouself of gesels saam in jou gesin of met huismense:

  • Wat beteken dit dat die Here ons Herder is?
  • Op watter manier lei Hy ons na ‘waters van rus en groen weivelde’?
  • Watter versekering bied die belofte dat Hy by ons is ‘selfs al gaan ek deur donker dieptes’?
  • Op watter manier gee Hy ons nuwe krag?
  • Wat beteken dit vir jou dat die Herder Sy lewe vir jou afgelê het? (Joh.10:15)

Bid vandag vir jouself en vir ander dat die Herder by ons ook rustigheid en vrede sal bring, selfs al is tye onseker.