As ons kinders is, leer ons om dankie te sê as ons bid: ‘Dankie vir pappa en mamma. Dankie vir ’n dak oor my kop. Dankie vir kos en klere. Dankie vir gesondheid.’ En as grootmense is dankie-sê darem iewers ook deel van ons gebed. Maar dis moeilik om dankie te sê as ons omstandighede nie ideaal is nie. Dis maklik om dankie te sê as ons al die voorhandliggende het, dit wat ons dink ons móét hê. Maar wat as ons dit nie meer het nie? Is ons dan nog dankbaar?

Paulus moedig sy gemeente aan om in alle omstandighede dankbaar te wees. Paulus self was baie maal in baie moeilike omstandighede, gaan lees maar weer 2 Kor. 11:23-28. Beteken dit ons is dankbaar oor omstandighede? Sekerlik nie, hoewel ons in alles iets positief kan uithaal. In hierdie tyd is die positiewe dat ons tyd saam met ons mese het, tyd het om te lees, tyd het om stil te word en tyd om takies om die huis te doen. Maar ons is nie dankbaar dat mense siek word nie. Ons is in die eerste plek dankbaar dat ons verlos is! Ons is ook dankbaar dat ons kinder kan wees van ’n hemelse vader wat ons nooit alleen los nie en vir ons sorg, selfs in moeilike omstandighede. Miskien is hierdie ook ’n goeie tyd dat ons weer ons seëninge tel en leer om dankbaar te wees in alle omstandighede!

Dink bietjie by jouself of gesels saam in jou gesin of met huismense:

  • Waarvoor kan ons alles dankbaar wees?
  • Hoe kan ons met dankbaarheid lewe teenoor die Here se verlossing?
  • Hoe kan ek anders praat sodat ander mense kan hoor ek leef in dankbaarheid?
  • Bid vandag en sê dankie vir Here. Dankie vir alles in alle omstandighede.